Bronstydperk
| Deel van ’n reeks oor die |
| Wêreldgeskiedenis en voorgeskiedenis |
|---|
| ↑ Voor Homo (Plioseen-epog) |
| Voorgeskiedenis (drietydperkstelsel) |
| Aangetekende geskiedenis |
| ↓ Toekoms (Holoseen-epog) |

Die Bronstydperk is 'n tydperk in die geskiedenis wat daardeur gekenmerk word dat die mens met koper- en bronswerktuie eerder as met klipwerktuie begin werk het. Beskawings het begin vorm, mense het in stede begin saamwoon en skrif het as kommunikasiemiddel begin ontwikkel. Dit is die tweede van die drie tydperke waarin die vroeë geskiedenis van die mens onderverdeel word; dit val naamlik tussen die Steen- en Ystertydperk.
’n Antieke beskawing word as deel van die Bronstydperk beskou as hulle óf self brons vervaardig het deur koper te smelt en met tin, arseen of ander metale te meng, óf as hulle met bronsvervaardigende beskawings handel gedryf het om bronsvoorwerpe te kry. Brons is harder en duursamer as ander metale wat in dié tyd beskikbaar was, en dit het beskawings van die Bronstydperk ’n tegnologiese voorsprong gegee.
Hoewel aardyster algemeen voorkom, het die hoë smeltpunt daarvan, 1 538 °C, dit tot die einde van die tweede millennium v.C. buite bereik van algemene aanwending geplaas. Vanweë tin se lae smeltpunt van 231,9 °C en koper se relatief lae gemiddelde smeltpunt van 1 085 °C kon die mense van die Neolitikum daarmee werk – die droogoonde van omstreeks 6000 v.C. kon tot temperature van meer as 900 °C verhit word.[1]
Hoewel die Ystertydperk gewoonlik op die Bronstydperk gevolg het, het die Ystertydperk in sommige gebiede, soos Afrika suid van die Sahara, so vroeg as 2500 v.C. begin.[2] Dit was nie nodig om yster met 'n ander en soms skaars metaal te leger 'n duursame produk te verkry nie.
Kulture van die Bronstydperk het skrif op verskillende maniere ontwikkel. Volgens argeologiese bewyse het kulture in Mesopotamië (wigskrif) en Egipte (hiërogliewe) die vroegste praktiese skryfstelsels ontwikkel.
Groot beskawings van die Bronstydperk
[wysig | wysig bron]- Sumeries 3400 v.C.
- Egipties 3050 - 322 v.C.
- Minoïes 2500 - 1400 v.C.
- Indus 2600 - 2000 v.C.
- Hetities 1750 - 1200 v.C.
- Babilonies 1782 - 1595 v.C.
- Shang-Chinees 1600 - 1027 v.C.
- Miceens 1500 - 1300 v.C.
- Zhou-Chinees 1027 - 256 v.C.
- Fenisies 1000 - 574 v.C.
- Olmek 1000 - 600 v.C.
- Chavin 1000 - 200 v.C.
- Etruskies 900 - 100 v.C.
- Assiries 883 - 612 v.C.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ James E. McClellan III; Harold Dorn (2006). Science and Technology in World History: An Introduction. JHU Press. ISBN 978-0-8018-8360-6. p. 21.
- ↑ Iron In Africa: Revising The History : Unesco. Portal.unesco.org. Besoek op 28 Julie 2013.
Skakels
[wysig | wysig bron]
Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir bronstyd.
