close
Gaan na inhoud

SAL-vliegtuigkaping in 1972

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Op 24 Mei 1972 het die enigste suksesvolle vliegtuigkaping van 'n SAL-vlug plaasgevind; tydens 'n Boeing 727-100 (Letaba met registrasie ZS-SBE)-vlug onderweg vanaf Salisbury, Rhodesië (nou bekend as Harare, Zimbabwe) na Johannesburg. Twee Libanese Fouad Abu Kamil, 'n diamanthandelaar, en Ajaj Jorge Yaghi, 'n polisie-inspekteur in Libanon en privaat sekuriteitswag van Kamil, het beheer oor die vliegtuig geneem, deur dinamiet te voorskyn te bring. Hulle was ook gewapen met 'n pistool.

Verloop

[wysig | wysig bron]

Die twee mans het gedreig om die vliegtuig op te blaas as die vlieënier, kaptein Blake Flemington, hulle nie na die Seychelle sou vlieg nie. Maar die vlieënier het hulle gewaarsku dat daar nie genoeg brandstof was vir 'n vlug na die Seychelle nie. Die twee kapers het die vlieënier toe gedwing om na Salisbury terug te keer waar hulle geland en brandstof aangevul het met 12 gyselaars wat aan boord oorgebly het, terwyl die res van die passasiers vrygelaat is.

Die vliegtuig het weer van Salisbury vertrek op pad na die Seychelle. Die kapers het deur middel van radioboodskappe aan beide Salisbury en Johannesburg geëis dat die voorsitter van die Anglo American-korporasie, Harry Oppenheimer, met wie Kamil 'n dispuut gehad het oor die opbrengs van sommige diamanttransaksies, Kamil in die Seychelle moes ontmoet waar beide die gyselaars en die vliegtuig oorhandig sou word. Harry Oppenheimer het toevallig ook noue bande met dr. Kamuzu Banda gehad.

In die aand, nadat hulle oor die Oos-Afrikaanse kus gekruis het, terwyl die kapers met die vlieënier gestry het oor die korrekte koers na die Seychelle, het die Lugverkeersbeheer in Malawi skielik die vlieënier gekontak en aangebied om te help.

Na 'n kort bespreking met die Lugverkeersbeheer in Malawi, is die vlieënier toestemming gegee om by Chileka Internasionale Lughawe in Blantyre te land, op die voorwaarde dat die vlieënier die vliegtuig sou kon hervul en dan die volgende dag met die reis sou voortgaan. Na die landing het die passasiers die nag gebruik om die kajuit te betree, waar hulle met die noodontsnappingstou afgeklim het. Teen die tyd dat die kapers dit besef het, het slegs die kaptein, een passasier en 'n vlugkelner, Dirk Nel, op die vliegtuig oorgebly. Die twee kapers het met mekaar begin baklei vir die besit van die dinamietontsteker. In die daaropvolgende chaos het die drie gevangenes ontsnap en die twee kapers aan boord gelaat. Lede van die Malawi-veiligheidsmagte het begin om op die vliegtuig te skiet en die twee kapers het oorgegee.

Hulle is vir twee jaar tronk toe gestuur op 'n aanklag van die besit van 'n onverklaarde vuurwapen aan boord van 'n vliegtuig. Nadat hulle een jaar van hul vonnis uitgedien het, is hulle op bevel van die destydse President van Malawi, dr. Kamuzu Banda, uit die tronk vrygelaat en onmiddellik uit die land gesmokkel.

In 2009 het Kamil, toe 83 jaar oud en in Brasilië woonagtig, op sy Facebook-blad geskryf dat hy 'n ou man was en nie geweet het hoe lank hy sou leef nie. Hy het toe om verskoning gevra vir sy gedrag en wou die slagoffers van die kaping om vergifnis vra.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]