Huberta


Huberta (aanvanklik Hubert), soos die pers haar gedoop het, was 'n bekende swerwende seekoei wat tydens die Groot Depressie vir afleiding in die media gesorg het.
Die jong seekoei het haar staptog in Oktober 1928 uit die strandmeer by St. Lucia begin en suidwaarts gestap. Dié swerftog sou drie jaar duur, waartydens sy 'n afstand van sowat 800 km afgelê het, en 122 riviere sou oorsteek. Sy is deur nuuskieriges en fotograwe agtervolg. Baie mense het haar gevoer en die Johannesburgse Dieretuin het ook probeer om haar te vang. Sy het strande in Durban besoek, oor gholfbane geloop en in Pinetown rondgedwaal.
Van die stories van haar tog is dat sy een nag op 'n brug aan die slaap geraak het totdat 'n motoris haar met die kar se buffer gestoot en sy weggestorm het. Haar spore het legendaries geword. Sy sou snags verskyn, maar kon fotograwe en jagters met buitengewone slinksheid ontduik, om voor dagbreek weer in die mis te verdwyn. Die Natalse Provinsiale Raad het Hubert, in die geloof dat dit 'n mannetjie was, tot "koningswild" (Royal Privy) verklaar, wat beteken het dat die seekoei met rus gelaat moes word.[1] In 1930 het sy Oos-Londen bereik. Hier het sy op 'n keer op die spoorlyn aan die slaap geraak en die masjinis moes haar liggies met die lokomotief van die spoor afstoot.
Drie of vier jagters het haar in April 1931 ses skote toegedien terwyl sy in die Keiskammarivier gebad het. Haar dood is op 23 April 1931 in King William's Town aangemeld. Kaptein G.C. Shortridge, die destydse Direkteur van die Museum, en sy assistent, Nicolaas Arends, het haar karkas stroomaf in die rivier herwin. Haar vel en skedel is in 'n taxi na King William's Town vervoer. Daar was groot openbare verontwaardiging oor haar dood. In die hof het die boere gepleit dat hulle ongeletterd was, en nog nooit van Huberta gehoor het of van haar status as "koningswild" bewus was nie. Elkeen is nogtans met £25 beboet.[2] Skenkings het ingestroom sodat sy in Engeland deur taksidermiste E. Gerrard & Sons gemonteer kon word. Die koste het £159-19-6 beloop. Op 4 Desember 1931 is dié gemonteerde liggaam weer huis toe verskeep. Huberta is eers by die Durban-museum uitgestal, waar 20 381 besoekers haar van 12 Januarie en 17 Februarie 1931 besigtig het. In Maart 1932 is sy na Oos-Londen verskeep en daar uitgestal, en later dieselfde jaar by die Randse Paasskou.[2]
Haar gemonteerde huid word by die Amathole-museum in King William's Town bewaar en uitgestal.
Swerfroete
[wysig | wysig bron]Huberta is by die volgende dorpe en liggings aangeteken:[3]
- St. Luciameer, Oktober/November 1928
- Nieu-Guelderland, 22 November 1928
- Mbozambo-vleiland naby Stanger, Desember 1928
- Tongaat, Januarie 1929
- Umhlanga-strandmeer, Februarie 1929
- Durban-Noord, Maart 1929
- Pinetown, Maart 1929
- Durban, April 1929
- Sydenham, Junie 1929
- Mariannhill, Junie 1929
- Umkomaas, Desember 1929
- Scottburgh, Desember 1929
- Anerley, Desember 1929
- Port Shepstone, Desember 1929
- Port St. Johns, arriveer Januarie 1930 en bly sowat 6 maande
- Berlyn, Januarie 1931
- Oos-Londen, Maart 1931
- Keiskammarivier, 24 April 1931
Bronne
[wysig | wysig bron]- Die Suid-Afrikaanse Gids: Feite en wenke. Isabel Uys. 2009 ISBN 978-1-86919-324-9
- Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995. ISBN 1-86842-026-4
- Marx-Engelbrecht, Jean: Huberta the untold story. Wandsbeck: Reach Uitgewers, 2010. ISBN 9780620463331
